Die Kruis is leeg, wat nou?

in Preke
2015-04-20

Leraar : Tessa Freeman

Skriflesing : 1 Johannes 3:1-7

Datum : 19 April 2015 (Aand )

1 Johannes 3:1-7

1 Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.
2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.
3 Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.
4 Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God.
5 Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie.
6 Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.
7 Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is;

Ons lees in die Johannes Evangelie, al aan die begin van sy skrywe, ook van hierdie tema dat gelowiges in Christus kinders van God word:

Johannes 1:12-13

12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.

Dus word die tema van kindskap weer herhaal in 1 Johannes 3:1. M.a.w. vanaand se teksgedeelte is ‘n herbevestiging van dit wat reeds gesê is oor wat Jesus in Sy tyd op aarde bewerkstellig het.

Die vraag wat ons vir onsself kan afvra is: Hoekom herhaal Johannes homself? Hoekom skryf Johannes herhaaldelik oor gelowiges se kindwees in Christus? Hy rig dan hierdie brief aan gelowige mense van sy tyd. Mense wat reeds in Jesus se bestaan geglo het, wat reeds getuig het van Sy kruisiging en opstanding en wat reeds in ‘n verhouding met God gestaan het.

Die rede waarom Johannes hierdie herbevestiging neergepen het, is omdat die gelowiges van daardie tyd in uiters uitdagende tye geleef het. Tye wat sekere raakvlakke het met die tye waarin ons vandag leef. In die tyd wat hierdie eerste brief van Johannes geskryf is, was daar reeds gelowige mense, soos ons. MAAR daar het dwaalleer (Gnostisisme) ontstaan wat vir die gelowiges wou voorskryf dat Jesus nie regtig die Seun van God was nie en dat Jesus nie uit die dood uit kon opstaan nie. Hierdie dwaalleraars het gemeen dat dit onmoontlik was vir ‘n Godheid om mens te word en dat die opstanding uit die dood onrealisties en onverklaarbaar was en dus moes wat die gelowige mense geglo het, vals gewees het. Dit het natuurlik beteken dat die gelowiges konstant weerstand moes bied teen ‘n klomp aantygings wat gemaak was wat teen wat hulle geglo het ingegaan het. Ons as gelowiges moet nou nog weerstand bied teen ‘n klomp dinge wat vandag in ons samelewing gebeur wat teenstrydig is met dit wat ons glo en dit wat ons in die Woord lees.

Dit is dan nou ook wat hierdie brief van Johannes so relevant maak vir ons as gelowige mense in die hede. Johannes kon net sowel hierdie brief rig aan Christene van vandag.

In vers een van 1 Johannes 3 praat Johannes van ons kindskap. Wanneer ons dink aan kindwees, dink ons dalk aan ons eie kinders, of hoe dit vir ons was om ‘n kind te wees. Maar wanneer Johannes hier praat van kindwees, verwys hy na meer as net om biologies iemand se kind te wees d.m.v. ‘n fisiese geboorte. Ja, natuurlik word ons fisies gebore as skepsels van God, maar wat beteken dit dan nou om ‘n kind van God te wees? Ons word die geleentheid gebied om kinders van God te word deur dit wat Jesus vir ons gedoen het aan die kruis en wat daarna gebeur het. As gelowiges sterf ons geestelik saam met Jesus aan die kruis en ons ondergaan ‘n nuwe geboorte tydens Jesus se opstanding. Ons word wedergebore as kinders van God.

God neem ons aan as Sy kinders. In die tyd wat hierdie brief geskryf is, was daar ook iets soos aanneming, maar dit het anders geskied as wat dit vandag geskied het. In daardie tyd het kinderlose volwassenes ‘n jongmens of ‘n ander volwasse aangeneem, bloot ter wille van die voortdra van hulle naam en nalatenskap. M.a.w. ‘n aangenome persoon het slegs die naam van sy aangenome ouers gedra, hy was nooit waarlik hulle kind nie. Johannes sê vir ons dat ons nie bloot die naam “kind van God” het nie, maar ons is dit ook. Ons behoort aan ons Vader, ons is Syne, Sy kinders. Hoe ongelooflik is dit nie ook om te dink dat God, ten spyte van die feit dat Hy nie kinderloos was en reeds die volmaakte Seun het en selfgenoegsaam is, steeds ons aanneem as Sy kinders?

Ons het nou as gelowiges, kinders van God, ‘n nuwe identiteit. Hierdie nuwe identiteit het ook dan nou ‘n effek op ons etiek, die manier waarop ons leef. Omdat ons kinders van God is, is ons ook anders. Ons is anders wat die wêreld vir ons wil voorskryf om te wees.

Johannes praat in die laaste gedeelte van ons skriflesing oor sonde en geregtigheid. Hy sê kinders van God hou nie aan met sondig nie. Wat hiermee bedoel word is dat ons as kinders van God, nie tevrede kan wees met sonde en ongeregtigheid nie. Ons kan nie meer dieselfde leefstyl hê as voorheen nie, omdat ons deur Jesus deel gemaak is van God se huisgesin en daardeur is ons totaal en al verander.

Dis nie die feit dat ons sondeloos is wat ons kinders van God maak nie. Ons is in en deur Jesus kinders van God en daarom poog ons om sondeloos te wees.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele, die eerste gaan oor sonde, die tweede oor vergifnis en die laaste oor dankbaarheid. Glo dit of nie, maar die 10 gebooie wat vir ons voorskryf watter sondes om nie te doen nie, kom nie voor onder die gedeelte oor vergifnis nie, maar eerder onder die dankbaarheid afdeling. M.a.w. ons is reeds kinders van God, om die gebooie na te kom en om rein te lewe, is die manier waarop ons ons dankbaarheid betoon. “New birth produces obedience”.

Die kruis is leeg, wat nou? Nou is ons kinders van God en moet ons ook leef as kinders van ons Almagtige Vader. Mag ons in al ons doen en late besef dat ons kinders van God is en mag hierdie besef al ons doen en late transformeer.

Amen