God se Gees…die geheimenis

in Preke
2015-05-31

Leraar : Dr Jerry Fourie

Skriflesing :

Skrif: Joh 3:3-8 Rigters 13:1-24

Datum : 17 Mei 2015

Diens : Kerk

Die krag en Werking van die Heilige Gees lê op daardie vlak waar ons nie alles met ons verstand kan uitwerk nie. Ons het met die mier en die sprinkaan en die dassie en die geitjie saamgereis, by Josef, die man wat so baie gehuil het, met Naomi, hulpelose weduwee met niks, Nehemia, betraande planmaker. Die kruis van Jesus waardeur God nuwe lewens omstandighede skep!! Elkeen kon die ingreep en misterie van God ervaar. Kon hulle te alle tye God se inwerk en God se krag in hulle lewens verklaar? Ons almal gaan een of ander stadium dokter toe. Die meeste van ons verstaan maar ‘n weinig van die operasie wat ons moet ondergaan. Ons verstaan nie ons eie fisiologie en anatomie nie, ons weet nie presies hoe werk narkose nie, ons drink medisyne en sien die helende resultaat. Maar presies hoe die medisyne in die bloedstroom kom en ons selle bereik en hoe dit die genesing tot gevolg het, hoeveel van ons verstaan dit? Het ek en jy regtig nodig om dit te verstaan voordat ons gesond kan word. Die kragtige werking van die Heilige Gees is ‘n misterie, die misterie van my en jou redding uit die sonde deur die bloed van die gestorwe en opgestane Jesus. Daardie wyn en brood gaan ons netnou DV beleef. Presies wat hier binne gebeur: Onverstaanbaar!! Is dit wat in hierdie Evangelie staan, waar? Jesus het van die hemel af, van God die Vader af na ons toe gekom om te vertel dat dit waar is.

John Hutton vertel van die ambagsman wat so gedrink het, tot bekering gekom het en ophou drink het. Sekerlik glo jy nie in wonderwerke wat Jesus gedoen het nie. Het Jesus water in wyn verander? JH: Ek weet nie of Jesus dit gedoen het nie, maar in my huis het Jesus wyn in meubels verander. Daar was baie drank in my huis, min meubels. Nou skielik nie meer drank nie, maar in die plek daarvan kom daar meubels.

Die Heilige Gees bring verandering. Ek en jy verstaan nie waar die Heilige Gees vandaan kom nie, ons kan Hom nie sien nie, ons kan nie sien hoe Hy werk nie. Ons kan wel duidelik in ons eie lewens sien hoe Hy ons verander. Ons kan sien hoe Hy ons omskep tot kinders van God. Ons sien hoe slegte mense verander na goeie mense. Ons kies ‘n treindrywer tot ouderling. Sy vriende vra my op ‘n dag: Hoe kon julle? Daardie man kan kuier saam met ons en die Here is definitief nie daar gemaklik nie. Ons het maar vertrou die Heer het hom geroep. So 2 jaar later. Jy sal nie glo as ons vir jou vertel hoe daardie drywer se lewe soos handomkeer verander het nie. Maar dis niks, jy moet sien hoe het sy verandering ons lewens soos handomkeer verander. God se Gees!!!

Simson se verhaal: Famous failures!!

God verskyn aan Manoag daar uit Sora se vrou. Hulle was uit die stam Dan. Sy het die hartseer verhaal van kinderloos wees. Baie swaar om nie kinders kan hê. In Joodse tradisie was dit so goed soos ‘n lewensvloek. Haar doodloopstraat kry nuwe lewe. God in sy misterie verskyn aan haar. Bring vreugde, maar ook duidelike riglyne. Geen bier, drank oor haar lippe, niks onreins eet nie en ook nie oor Simson se lippe in sy lewe nie. Geen skêr of knipper naby sy hare. Die kind van geboorte af aan God gewy. Hy moet Israel red. Dan die tweede verskyning aan haar en Manoag. Hulle wil vir die engel offer. Hy weier, net aan God ons dank en eer. Hierdie ontmoeting het sulke heilige momente dat ek skaars daarin wil inwerk. Offer aan God, vlam en rook na die hemel en die engel beweeg daarin terug.

Wanneer die seuntjie gebore word, het hy groot geword en die Gees van die Here het hom gelei. Die hartseer wanneer hy op die Filistynse meisie verlief raak, die vyand wat hy moes bestry. Adder in sy boesem. Die troue loop uit op fiasko. Die seer wat hy veroorsaak deur sy ongehoorsaamheid. God se genade bly groot en rond. Die opvolg na die troue nog ‘n stuk hartseer wat eindig in jakkalse met vlammende sterte in die koringlande en koringmiede. Selfs die wingerde en olyfboorde loop deur. Later weer terug na Gasa. Word ingewag, maar hy tel hekke uit hulle skaniere en uit die stadspoort uit. Dra dit weg. Simson en Delila se pad wat uitloop op die doodloopstraat wanneer sy hare afgeskeer word en sy oë uitgesteek word!!

Hy land in die tronk, kragtige dier in kettinghok. Elke keer het God se Heilige Gees op een of ander wonderlike manier weer Simson versterk. Nou in die tronk: 16:22 In die tronk moes hy die meul draai, donkie se werk. Gaan sleg. Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei. Die misterie van God se Gees. God skep uit hierdie lewensleegheid, uit hierdie niks nog nuwe lewensmoontlikhede. Simson sou nog een maal sy krag, deur die Heilige Gees geskenk, gebruik. Die Filistyne se tempel vernietig, aanbidders saam doodmaak, maar ook sy eie lewe daarmee vir ewig vernietig. Sy verhaal vir my en jou aanmoedig om die Heilige Gees met hande gryp. God se Gees skep uit Jesus se dood, leegheid en die niks wat oorgebly het, nuwe lewensmoontlikhede. Nagmaal: Herinner God skep uit die legheid van die kruis in ons nuwe lewensmoontlikhede!