Om daad by die woord te voeg

in Preke
2015-07-12

Leraar : Prop Tessa Freeman

Datum : 12 Julie 2015

Skriflesing : Matt 21 : 23-32

23Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?” 24Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?” Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 26Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as ’n profeet.” 27Toe antwoord hulle vir Jesus: “Ons weet nie.” En Hy sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

28“Wat sê julle hiervan? Daar was ’n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’29‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle sê: “Die eerste.” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. 32Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”

‘n Paar hoofstukke voor hierdie een, lees ons dat Jesus van Galilea af gegaan het na Judea. In die gedeelte wat ons nou saam gelees het, lees ons dat Jesus by die tempel was, besig om vir mense te leer.

Ons lees in hierdie gedeelte dat terwyl Hy besig was om die mense te leer by die tempel, begin die priesterhoofde en familiehoofde ‘n twisgesprek met Hom. Ons lees reg deur die Evangelies van hoedat hierdie priesters, die skrifgeleerdes, met Jesus probeer debatteer het.

Hierdie priesterhoofde is eintlik baie geniepsig, omdat hulle in al hierdie twisgesprekke vir Jesus probeer manipuleer het, om iets te sê wat hulle teen Hom kon hou. Hierdie twisgesprekke is amper soos boksgevegte met woorde. Wat gebeur het, was dat die priesterhoofde vir Jesus ‘n vraag gevra het waarop hulle geweet het dat, maak nie saak wat Hy sou antwoord nie, Hy sou Homself in ‘n hoek in gepraat het. Dis soos wanneer jy iemand iets sou vra soos: Jy slaan mos nie meer aan jou vrou nie? Maak nie saak wat die persoon hierop sou antwoord nie, dit sou negatief gewees het. So probeer die priesterhoofde en familiehoofde Jesus forseer om iets te erken wat Hom in die moeilikheid sou bring.

Hulle vra Hom wie Hom die gesag gegee het om te doen wat Hy besig was om te doen. En maak nie saak wat Hy sou antwoord op hierdie vraag nie, dit sou verdere ernstige implikasies gehad het. Maar soos ons weet laat Jesus Hom nie sommer in ‘n hoek in praat nie. Hy het in hierdie twisgesprekke nooit ‘n antwoord aangebied wat hom in die moeilikheid sou kry nie. In hierdie geval antwoord Hy hulle nie op hulle vraag nie, maar vra hulle ‘n soortgelyke vraag oor Johannes die doper.

Want julle sien in Jerusalem waar Jesus op daardie stadium was, was Johannes die doper baie bekend, dit is waar Johannes se bediening plaasgevind het en waar hy mense gedoop het. Dus was Johannes baie bekend in daardie area.

Jesus vra hierdie priesterhoofde en skrifgeleerdes of Johannes se doop van mense afkomstig was of van God. As hulle gesê het sy doop was van God afkomstig, sou hulle daarmee hulleself in ‘n hoek in gepraat het, want hoekom het hulle dan nie vir Johannes geglo nie? Aan die teenkant as hulle gesê het dat Johannes se doop van mense afkomstig was, sou hulle ook in ‘n hoek beland het, want dit sou veroorsaak het dat die mense hulle sou aanvat, omdat hulle baie hoë agting gehad het vir Johannes die doper.

So sê die priesterhoofde en familiehoofde maar eerder dat hulle nie weet waarvan Johannes se doop afkomstig was nie. Gevolglik vertel Jesus die gelykenis van die twee seuns:

In die gelykenis verwys die eerste seun na die tollenaars en prostitute en mense wat oor die algemeen verkeerd en sondig geleef het en nie volgens God se wil opgetree het nie, maar wat wel later Johannes die Doper se prediking geglo het, en hulle bekeer het om die wil van die Vader te doen. Só het die eerste seun ná sy aanvanklike weiering om sy pa se werk te doen, sy besluit verander en dit wel gedoen. Die Griekse woord (mettalêghêtheis) beteken letterlik om ‘n verandering in jou gemoed te hê.

Die seun was spyt dat Hy gesê het hy wil nie in die wingerd werk nie en gaan doen dit dan. Net soos die mense wat beskou was as die grootste sondaars van Jesus se tyd, die prostitute en die tollenaars, nadat hulle Johannes se prediking verstaan het, spyt was oor hulle gedrag en verander het om volgens God se wil te leef.

Die ander seun, waarvan die gelykenis praat, stem aanvanklik in om sy pa se wil te doen, maar uiteindelik gaan doen hy nie wat hy gesê het hy sou nie. Dié seun verteenwoordig die Joodse godsdienstige leiers wat skynheilig die indruk skep asof hulle God se wil doen, maar wat nie bereid was om op Johannes se prediking met geloof te reageer nie. Hulle het ook nie in hom geglo toe hulle sien hoedat sondaars deur hom tot bekering kom nie. Anders as die eerste seun, het hulle nie spyt gekry of hulle gemoedere verander nie. Hulle sê een ding maar doen die teenoorgestelde, nes die tweede seun in hierdie gelykenis.

Na Jesus die gelykenis vertel vra hy die priesterhoofde en familiehoofde; watter een van die seuns was reg. Sonder om te besef dat hulle eintlik sê dat hulle verkeerd opgetree het teenoor Johannes die doper, sê hulle onomwonde dat die eerste seun reg was. Met dit praat hulle toe hulself in ‘n hoek in, m.a.w. hulle spreek self oordeel oor hulleself uit. Jesus se gelykenis wys vir hulle hoedat hulle verkeerd opgetree het teenoor Johannes.

Maar dis nie die enigste kwessie wat Jesus met hierdie gelykenis aanspreek nie. Hy spreek eintlik iets aan wat Hy vroeër ook aangespreek het. Ons lees in Matteus 7:21 hoedat Jesus vir die mense sê dat hulle geneig is om met hulle monde te getuig van hulle geloof in God, maar hulle tree nie op soos mense wat glo in God nie. Hy sê om te praat en te getuig van hoe lief mens vir God is, is een ding, maar om daardie woorde lewend te maak in ‘n mens se lewe is ‘n heel ander saak.

Dit is nie net ‘n probleem wat voorgekom het tussen die mense van Jesus se tyd nie, dit is ‘n menslike probleem wat oor tyd strek en vandag nog ‘n probleem is.

Ons as gelowiges loop ‘n gevaar wanneer ons vreeslik uitgesproke is oor ons geloof in Christus. Die gevaar is dat ons as gelowiges sal voorkom as skynheilige mense wat een ding sê maar ‘n ander ding doen. Ons praat maklik, maar dit is doodgewoon net nie so eenvoudig om die daad by die woord te plaas nie.

Dis eintlik snaaks, want as kinders van God, word daar nooit van ons verwag om perfek te wees nie, ons maak ook baie gereeld foute. Jesus sê dan juis in hierdie gedeelte hoedat die mense wat beskou was as die grootste sondaars van hulle tyd deel kry van die Koninkryk van God. Ons maak gereeld foute en sou nie perfek kon wees al probeer ons ons bes nie, maar genadiglik glo ons in ‘n God wat ons vergewe.

Waarvoor ons wel versigtig moet wees is om so uitgesproke te raak oor waaroor dit gaan om ‘n Christin te wees, dat ons op die ou end vergeet om juis Christelik te leef.

Terloops ons lewe in ‘n tyd waar woorde min waarde dra. Ons woon in ‘n land waar elke tweede politieke party byvoorbeeld baie praat van al die verbeterings wat hulle gaan aanbring, maar hulle dade weerspieël nie hierdie beloftes nie. Ons het ook deesdae soveel forums waarop ons kan saampraat: facebook en twitter, telefone en selfone waarmee ons ons stemme kan laat hoor regoor die wêreld. Woorde het ongelukkig niksseggend geword. Ons oorskat woorde.

Jesus het nie tussen mense kom woon om hulle te leer hoe Christene moet praat nie, nee Hy het ons kom leer hoe gelowige mense moet leef. Terloops die paar kere wanneer Jesus praat oor hoe ons met God moet praat in gebed sê Hy ons moenie dit in publiek gaan doen om mense te beïndruk nie, maar dat ons in ons binnekamers stil moet word voor God in gebed.

Hierdie teksgedeelte vermaan ons nie om glad nie te praat oor ons geloof nie, maar dit laat ons opnuut besef hoe belangrik woorde kan wees as mens dit sinvol gebruik en as mens se dade weerspieël wat mens sê.

My laaste opmerking, hoop ek sal ook sinvol wees:

Die kerkvader Augustinus het op ‘n keer gesê:

“Verkondig die evangelie, indien nodig gebruik woorde”.

Amen