Ek glo in God die Vader

in Preke
2015-07-27

Leraar : Dr Jerry Fourie

Datum : 26 Julie 2015

Skrif : Joh 1 : 14-18

Die HK plaas eers die klem op God se Vaderskap. Asb hierdie gaan nie oor die manlike/vroulike eienskappe nie. Ons gaan vanoggend stilstaan by verhoudings. Die eerste artikel: Ek glo in God die Vader … Skepper! Luister mooi wat sê die HK. Ek haal vir u die hoofsin in hierdie antwoord aan. Dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus om sy Seun se ontwil my God en Vader is!! Die skepping en al die wonders wat daarmee saamgaan, vorm nie die hoofklem nie. Dis ontsettend kosbaar en die waarheid daarvan is groot. Maar groter en belangriker: Ewige Vader van ons Here Jesus! Dis ‘n psalm, dis ‘n lied. Dis groots. … God die Vader in Persoon. Hierdie Persoon, Skepper, My Vader. My God … My Vader? Ek weet ons bid en bely dit dikwels. Miskien net goed om oomblik daaroor na te dink! Oor die feit dat hierdie God en Vader van ons Here Jesus ook my God en Vader is … My Persoonlike Vader. Jou Persoonlike Vader. Ons elkeen se persoonlike Vader. Die kleinste kindjie moet dit verstaan en vasgryp, die mees senior onder ons moet dit aangryp, daarin RUS vind. My gemoed in hierdie sondige en onrustige wêreld rus daarin vind. Die grootste geleerde moet dit oordink, die mees algemene mens, ek en jy: Ons moet almal daarop Amen sê. Dis net bo ons verstand. God is ons Vader. Daarmee begin die Apostoliese geloofsbelydenis.

Hierdie Vader gee sy Seun tot ewige Vaderskap! Hy laat toe dat sy Enigste aan ‘n kruis gespyker word tot ewige versoening. Deur sy kruisdood en opstanding kom die Heilige Gees en lei ons terug na ‘n gesonde en inteme verhouding! Hoekom moet ons daaroor opgewonde wees? Die Allerheiligste in die heelal, Vader van Christus is my, jou, skuldige, sondige, hulpelose mense se Vader. Hy wat die heelal met alles daarin en daarop in 6 dae geskep het, wat alles elke dag onderhou, wat my en jou van die eerste selletjie af gevorm het, skuif alles vir ‘n moment opsy en roep my/jou ons op die naam.

Sy Vader-wees bring vir my ewige troos. Wat is die bedoeling van God? God se Vaderskap kan nie iewers begin nie en kan nie iewers ophou nie. Soos wat God in sy wese nie iewers begin nie en nie iewers kan ophou nie, kan ek weet God, Vader van ons Here Jesus, kan nooit ophou om Jesus se Vader te wees nie. Kan ook nooit ophou om my en jou Vader te wees nie. Ons aardse Vaderskap, ek pa vir my kinders, is maar ‘n floue vaderskap, gebrekkig, onvolkome, maar eintlik vaderskap in duister, terwyl die ewige Vader van ons Here Jesus is ‘n helder lig wat alles, die donker, swaar, seer, gebroke …. Verlig tot ewige hulp, heil, troos.

Doris vertel hierdie verhaal: My pa het my ma en ons gesin met 4 kinders alleen agtergelaat toe ek nog baie jonk was. Ek het nooit weer gesien of iets van hom gehoor tot ek 18 jaar oud was. Ek het geglo hy is dood. Toe my pa se suster, Tannie Emma my vertel hy leef nog, was ek baie verbaas. Ek het ‘n foto van my matriek en sert vir haar gegee en gehoop hy maak kontak. Hy het nie. Intussen het ek die Here Jesus leer ken en gegroei in my verhouding met Jesus en het God se liefde geken. Vir God die Vader was ek bang. Dit het nie sin gemaak dat die hemelse Here ‘n sagte liefdevolle Vader kan wees nie. Op ‘n dag het ek gehoor dat my pa dood is. My diepste hartsbegeerte om hom te ontmoet, het nie gebeur. Ek was baie diep seergemaak en het my tant Emma besoek. Sy het my so bietjie van my pa se lewe en dood vertel. En sê hy het besluit om my nie te sien nie omdat hy te skaam was oor sy gedrag teenoor ons gesin. Hy het geweet dat ek vir 17 jaar probeer het om hom te sien. By sy graf het ek vol botsende emosies en groot teleurstelling gestaan. My soektog het ten einde geloop en ek sou nooit my eie pa sien nie. Ek het daar voor God uitgeroep: Te laat, te laat!! Ek het geen vader nie.

Net toe hoor ek ‘n stem: Ek is jou Vader. Ek het omgedraai, maar daar was niemand anders nie. Ek het weer die woorde gehoor, maar hierdie keer heelwat sagter: Ek is jou Vader! Dis moeilik om te glo, maar die God wat ek so intens gevrees het, was besig om met my te praat. Skielik het ek omring gevoel van God se liefde! Met God wat Hom so aan my openbaar en sy liefde wat my omring, het ek nie meer die pyn gehad van ‘n verstote kind nie en die pyn van my vrugtelose soeke na my pa het versag. Daardie middag oënskynlik alleen daar in die begraafplaas het iets baie groots in my lewe verander: God wat ‘n heilige veraf figuur was my hele lewe lank, was skielik die Een met Wie ek praat, met Wie ek saamstap. Eensklaps het ek besef dat hierdie Vader wat ons so lief het, amper ongeduldig wag om ons vir ewig styf teen Hom vas te druk.