Hervormingsondag

in Preke
2015-11-14

Leraar : Ds. Deon Louw

Datum : 25 Oktober 2015

Skirf :1 Kor 12:12-13

Algemene Christelike Kerk – Sola Christo

Ek glo in ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.

Die belydenis “Ek glo in ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges” (in Latyn: Credo in … sanctam Eccle-siam catholicam, sanctorum communionem) is nie ’n aparte onderdeel van die Apostoliese Geloofsbelydenis nie, maar vloei direk uit die geloof in die Heilige Gees. Die kerk is ’n skepping van die Gees. Om in die kerk te glo, beteken om in die werk van die Heilige Gees in die kerk te glo.

Christene bely dat die kerk ten diepste gegrond is in die lewe van die drie-enige God. Die kerk ontspring uit die liefde van die Vader wat sy Seun gestuur gestuur sodat almal wat in hom glo die ewige lewe kan hê (vgl. Joh 3:16). En dit is die Heilige Gees wat die gelowiges in die waarheid lei en herinner aan wat Jesus geleer het (vgl. Joh 14:26). Die kerk is dus – soos wat dikwels in die Christelike ekumeniese tradisie beklemtoon is – ’n skepping van God se Woord en die Heilige Gees (creatura verbi et creatura spiritus).

Die kerk is deur God gegee, dit is God se gawe. Die belydenis “Ek glo in ’n heilige, algemene, Christelike kerk” is daarom ten diepste ’n belydenis dat die kerk ’n gawe van die drie-enige God is en aan dié God behoort.

Die belydenis van die geloof in die “een heilige algemene Christelike kerk” is dus onlosmaaklik aan die geloofsverbintenis aan die drie-enige God verbind. Daar is ’n onbreek-bare band tussen die wese en werk van die drie-enige God en die geheimenisvolle werklikheid van die kerk.

Hierdie waarheid dat die kerk van Christus sy identiteit en roeping van die drie-enige God ontvang, en as gevolg hiervan ’n gemeenskap van heiliges is, beteken nie dat ons die kerk met die koninkryk van God moet verwar nie. Die kerk ís nie die koninkryk nie. Nee, die kerk is dié liggaam wat om die koms van die koninkryk bid, en vanuit hierdie bede leef. Die kerk – as instrument van die Woord en die Gees – is juis geroep om as teken, getuie en voorsmaak van die koninkryk te dien. Wanneer die kerk hierdie waarheid vergeet, dan gebeur dit maklik dat die kerk in ’n tipe kerklike imperialisme verval. Dan word die kerk primêr as ’n doel opsigself beskou, en word die kerk se identiteit en roeping as deel van God se beweging na die wêreld en vir die wêreld versluier. Om die kerk reg te verstaan moet ’n groter visie voor oë gehou word, en hierdie groter visie word in aansluiting by die Bybelse getuienis as die koms van die ryk van God beskryf. Die kerk is dus nie die koninkryk nie; die kerk is in diens van die koninkryk; die kerk is ’n middel, die koninkryk is die doel van God se handeling in die wêreld.

As ’n mens oor die kerk praat (ook na aanleiding van die Apostoliese geloofsbelydenis), kan tereg gevra word na wat onder “kerk” verstaan word. Daar was in die geskiedenis heelwat onduidelikheid oor waarna die woord “kerk” nou eintlik verwys. In die alledaagse spraakgebruik verwys dit dikwels na die kerkgebou, maar dit is duidelik nie noodsaaklik vir kerkwees nie. Daar word meermale veral ses betekenisse onderskei:

  • Die kerk as aanbiddingsgemeenskap (wat gereeld op ’n bepaalde wyse op ’n Sondag vergader);
  • Die kerk as plaaslike gemeente (met leiers, leierskapstrukture, vergaderings, komitees, hulle aktiwiteite en eiendom);
  • Die kerk as denominasie (aan watter kerk behoort jy?);
  • Die kerk in die vorm van ekumeniese strukture (soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke);
  • Die rol van para-kerklike Christelike organisasies (wat werk in spesialisvelde rondom bejaardesorg, weeskinders, Christelike tydskrifte, teologiese opleiding, uitgewerye en so meer); en
  • Die kerk as organisme (individuele lidmate, Christen- gesinne, Bybelstudie-groepe, gelowiges wat in die samelewing werksaam is).

Dit skakel heelwat verwarring uit om te weet waarvan ’n mens praat en wat jy van die kerk in elke gestalte kan verwag en nie kan verwag nie.

Hierdie verskillende moontlike gestaltes van die kerk verklaar deels die ryke verskeidenheid van denke oor die kerk. Hierdie ryke verskeidenheid van perspektiewe op die kerk (wat na die Bybelse getuienis self teruggaan) moet behou word, en om hierdie verskeidenheid van per-spektiewe en beelde tot een algemene en dominante beeld van die kerk te probeer verskraal, is nie moontlik of wys nie.

In die tradisie word twee verdere merktekens dikwels beklemtoon, soos te vinde in die Griekse teks van die Belydenis van Nicea, naamlik “eenheid” en “apostolositeit” (laas-genoemde word soms met die term “Christelik” verbind). Na hierdie vier terme (eenheid, katolisiteit, heiligheid en apostolisiteit) word dikwels as die vier eienskappe van die kerk verwys. Die Christelike kerk word daaraan herken en gemeet dat die kerk een, heilig, algemeen (katoliek) en apostolies is. Maar wat presies hierdie eienskappe beteken, is nie so eenduidig en voor-die-hand-liggend nie, en dit vra vir verdere toeligting. Dit is wel merk-waardigheid dat hierdie vier terme so ’n fundamentele en standhoudende rol in die denke oor die kerk deur die eeue gespeel het – en steeds speel.

Die Apostoliese geloofsbelydenis se belydenis aangaande die kerk gaan terug op die Bybelse getuienis self. Die “vergadering van die Here” en die “volk van God” in die Ou Testament is die ruimte waar God geken word. In die Nuwe Testament vorm Jesus se roeping van twaalf dissipels die kern van die nuwe geloofsgemeenskap – ’n afbeelding van die twaalf stamme van Israel. Na Christus se lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart word die Heilige Gees uitgestort en bring die Gees die eerste gelowiges in gemeentes bymekaar. Die briewe in die Nuwe Testament is inderdaad aan sulke geloofsgemeenskappe gerig. Die idee van ’n “kerklose” gelowige is vreemd aan die Bybel.

In die Nuwe Testament word die kerk met bekende, aangrypende beelde beskryf: die volk van God, die liggaam van Christus (1 Kor 12), die bruid van Christus (Open 21:2), die huishouding van God (Ef 2), die tempel van die Heilige Gees (1 Kor 6:19) – en nog vele meer. Hieruit is dit duidelik dat dit in die belydenis rondom die kerk nie gaan oor iets anders as die geloof in God as Vader, Seun en Heilige Gees nie. Om te glo in die kerk is om iets te sê oor waar die werk van God in die wêreld sigbaar word. Veral die vier beelde van die kerk as “volk van God”, “liggaam van Christus”, “tempel van die Heilige Gees” en “gemeenskap” (koinonia) word dikwels uitgelig as beelde wat op ’n besondere manier die noue verhouding tussen die drie-enige God en die kerk belig.

In die Apostoliese geloofsbelydenis word die geloof in die heilige, algemene, Christelike kerk bely. Waar kom die gedagte van die kerk as heilig?

Aan die toppunt van heiligheidsbesef staan God as die Heilige van Israel. Heiligheid beteken afgesonderdheid, toewyding, seremoniële reinheid. Dit wek ontsag, die “vrees” vir die Here. Dis wat Jesaja ook gesien het: Die Koning is op die troon met die engele wat roep: “Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.” Maar heiligheid is nie net ’n beskrywing van God nie. Die hele motief agter die kultus is dat die volk self heilig sou wees. “Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie. Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees … Julle moet noukeurig onderskei tussen rein en onrein…” (Lev 11:44-46). Die nakoming van die Wet, tot in die fynste besonderheid, was daarop gemik om heiligheid te verseker.

Hierdie uitsig op heiligheid volg ook in die Nuwe Testament. Jesus het gekom om die wet te vervul. Jesus is die laaste hoëpriester wat eens en vir altyd versoening tussen ons en God gebring het. Daarom verval die offerkultus. Daar is niks wat onheiliges kan doen om hulle vir die heilige God aanvaarbaar te maak nie. “Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. Aan God is dit te danke dat julle met Jesus Christus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die heiliging …” (1 Kor 1:30). Christus, die Heilige, wat in alle opsigte net soos ons was, behalwe vir die sonde, is ons heiligheid. Vanuit hierdie “is” (identiteit), kom die “doen”. Dis die ander kant van heiligheid. “As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig’” (1 Pet 1:14-15).

Daarom is ’n verstaan van die Gees van God as “Heilige” Gees so belangrik. Hierdie Gees is heilig omdat die Gees natuurlik self God is. Heiligheid is dus in die eerste plek ’n kenmerk van die Gees. Maar ook omdat die Gees by uitstek gestuur is om met karaktervorming (heiligmaking) te help. Skrifgedeeltes soos Romeine 8 (die sug van die Gees en die gebede van die Gees), Galasiërs 5 (vrug van die Gees) en 1 Korintiërs 12-14 (gawes van die Gees) vertel hiervan:

Skriflesing

1 Kor 12:12-13

Woordverkondiging

Wanneer Paulus skryf vir die gemeente van Korinte verduidelik hy die gawes van die Gees aan die hand van ‘n metafoor van die menslike liggaam en hoe dit funksioneer. Hierdie liggaam bestaan uit ‘n verskeidenheid van ledemate. Elke ledemaat het ook sy eie bepaalde funksie.

Daar is nie een funksie van enige ledemaat belangriker as die ander een nie. Almal wat deel uitmaak van God se gemeente ontvang gawes. Maar nie een gawe is belangriker as die ander een nie. Ongeag wie ek is, wat my agtergrond, kultuur of ekonomiese stand is, ek is gedoop saam met die ander gelowiges met een Gees en ons deel in een Geloof, wat ons deel maak van die een Liggaam van Christus. Dit is ‘n beeld waar die verskeidenheid funksioneer in ‘n eenheid. Elke ledmaat het ‘n onmisbare deel aan die liggaam. Elke ledmaat is afhanklik van mekaar. Daaromis dit belangrik om te weet dat elke ledemaat is interafhanklik van mekaar.

Net so het ‘n gemeente ook elke lidmaat nodig. Wanneer Paulus vir Korinte skryf wil hy dit by hulle tuisbring dat daar nie ‘n rangorde is wat gawes aanbetref nie.Wanneer ek deel gemaak is van die Liggaam mag ek ook nie die leun glo dat ek glad nie gawes ontvang het nie. Paulus verseker die gemeente van Korinte ook daarvan dat hulled eel is van die Liggaam van Christus. Elkeen van die lidmate funksioneer as ‘n noodsaaklike liggaamsdeel. Elkeen in die gemeente het ‘n taak om te verrig.

Die gawes kan wissel van: apostelskap, profesie, vertroosting, prediking, voorbidding, evangeliste ens.ens.