In Sy stof…

in Preke
2015-11-23

Leraars : Prop. Tessa Freeman & Dr. Jerry Fourie

Datum : 15 November 2015 – Aand Diens

Skrif : Matt 14:22-23

IN SY STOF: MATTEUS 14:22-33

Die hart van die Evangelie is Jesus Christus. As ons histories praat van Jesus moet ons ‘n paar dinge van Hom weet: 1. Jesus was ‘n Jood. Hy was ‘n Joodse Rabbi wat tydens Sy leeftyd die verhouding tussen mense en God wou herstel. Jesus was nie ‘n Christen nie, Hy is Christus self. Ons geloof is gefokus rondom Jesus. Doel: Om soos Jesus te wees, soos Jesus te leef en in ‘n soortgelyke verhouding met God te wees. Jesus het mense kom leer hoe om soos Hy in ‘n intieme verhouding met God te leef. Ons poog om Sy voorbeeld te volg. Dit maak ons dan Sy volgelinge/dissipels.

Jesus van Galilea: As Jesus se volgelinge: ons weet: Ontvang Tien Gebooie

Jesus het groot geword in Israel, in die ortodokse Joodse gebied van Galilea. Die Jode wat in Galilea gewoon het rondom die tyd van Jesus se aardse leeftyd het daaraan vasgehou dat God op ‘n spesifieke historiese oomblik Homself geopenbaar het aan hulle voorvaders rondom die tyd van die uittog uit Egipte, terwyl hierdie Jode op daardie stadium in die woestyn Suid van Israel was, besig om te trek na die beloofde land en hulself bevind het by die voet van berg Sinai, het hulle leier, Moses, God se Woord ontvang op die berg. God gee vir Moses die 10 Gebooie. Hierdie Jode van Jesus se tyd het geglo dat die eerste vyf boeke van die Ou Testament – Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium – dit was wat God aan Moses openbaar het op berg Sinai.

Tora: Hulle het na hierdie vyf boeke verwys as die Torah. Torah beteken iets soos lering, instruksies of eenvoudig die weg. Die beste manier van leef was dus volgens dit wat die Torah voorskryf. Die Torah was NB! Die Torah was so belangrik vir die Jode dat Joodse kinders se opvoeding alleenlik gebaseer was op dit wat daarin voorgekom het. Joodse kinders het gevolglik van die ouderdom van 6-jaar af onderrig begin ontvang in die Torah. (hierdie fase was Bet Sefer genoem – Die Huis van die Boek). Hierdie onderrig se hoofdoel was om die Joodse kinders te leer om die Torah te memoriseer. Teen die ouderdom van 10-jaar was daar van kinders verwag om hele Torah – Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium – uit hulle koppe te ken.

Kennis van die Tora: Wanneer Jesus iets uit die Ou Testament aanhaal, het almal wat na Hom geluister het die teksgedeelte geken en kon hulle met Hom in gesprek tree daaroor! Dis omdat die Jode van Jesus se tyd die Torah gememoriseer het van kleintyd af, omdat daar slegs ‘n handjie vol geskrewe weergawes van die Torah was. Elke dorpie het moontlik een geskrewe weergawe daarvan gehad, wat in die Sinagoge bewaar was.

Rabbi’s het die hoogste aansien in die samelewing gehad. Hulle was die elite, die beste van die bestes, die slimste leerlinge wat die Skrif deur en deur geken het. Sien teen die ouderdom van 10-jaar het meeste Joodse kinders of uitgesak of natuurlike bekwaamheid om die teks te leer begin toon. Die heel slimste van die slimstes het dus gevorder na die tweede fase van onderrig (Bet Talmud – Huis van Lering) wat geduur het tot en met die ouderdom van 14-jaar. Die leerlinge wat uitgesak het, het bloot begin werk. Intussen het die heel beste van die beste leerlinge aan gehou met leer. En teen die ouderdom van 13- of 14-jaar het hierdie leerlinge die totale Ou Testament – Genesis tot Maleagi – uit hulle koppe uit geken. Rabbi’s het die gebruik gehad om baie selde antwoorde te gee op die vrae van die leerlinge en het eerder die vrae beantwoord met vrae van hul eie, om sodoende kritiese denke en gesprekvoering aan te moedig.

Ouderdom van 14, 15-jaar het slegs ‘n handjie vol leerlinge oorgebly. Hulle het die geleentheid gekry om ‘n rabbi se talmidim – dissipel – te word. Vir hierdie Jode het dissipel wees oor meer as net onderrig gegaan. Dissipelskap het nie beteken om dieselfde kennis as jou rabbi op te doen nie, dit het beteken om soos jou rabbi te word. Dit was ook nie net ‘n eenvoudige proses om ‘n rabbi se volgeling te word nie, hierdie slimste van die slimstes moes aansoek doen om ‘n volgeling te wees. So ‘n leerling het gevolglik alles agtergelaat, sy familie en ouers, sy huis, om homself daaraan te wy om hierdie rabbi se volgeling te wees.

‘n Rabbi se volgelinge het alles saam met hom gedoen. Hulle was oortrek van die stof soos wat hulle agter hierdie rabbi aan geloop het. ‘n Rabbi se volgelinge was bedek met stof. Teen die ouderdom van 30-jaar het die volgelinge self rabbi’s geword. Ons lees in die Nuwe Testament dat Jesus se bediening begin het rondom die ouderdom van 30-jaar. Ons lees in Matteus 4 vanaf vers 18 dat Jesus langs die see van Galilea loop en twee broers, Petrus en Andreas, raakloop. So ook met twee ander broers (Jakobus en Johannes). Dadelik los hulle hulle nette en begin om Hom te volg. Dit is vreemd, is dit nie? Hoe los jy bloot net jou werk, jou ouers en alles wat jy ken agter om ‘n vreemdeling te volg?

As ons hierdie verhaal binne die konteks van die eerste eeu sien, kan mens verstaan hoekom hulle dit gedoen het. Hulle was nie die beste van die bestes nie, hulle was nie slim genoeg om ‘n rabbi se volgeling te wees nie. Hulle kon self nie rabbi’s word nie. Dus was hulle nie so hoog geag soos ander Joodse mans wat die geleentheid gehad het om ‘n rabbi se volgeling te word nie. Dan kom Jesus: Wat doen Jesus? Hy hulle roep: Julle is goed genoeg, julle kan soos Ek wees. Jesus roep nie die leerlinge wat as bekwaam genoeg beskou was om dissipels te wees nie, Hy roep juis die mense wat beskou was as nie goed genoeg nie, die mense wat nie die hele Bybel geken het nie, die mense wat onder aan die ranglys was.

Ons lees in Matteus 14:22-33 van Jesus wat op die water aangestap kom na Sy dissipels toe. Petrus vir Jesus “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom”. Petrus klim dan oor die kant van die skuit en hy begin dan ook op die water loop na Jesus toe. Vreemd? As jy ‘n volgeling/ dissipel was het jy jou hele lewe daaraan gewy om soos jou rabbi te wees. Jou hoofdoel in die lewe sou wees om te doen wat jou leermeester gedoen het. As Petrus dan vir Jesus op die water sien loop, is sy eerste reaksie om self ook op die water te loop. Hoekom? Want Hy wil wees soos Jesus, Hy wil doen wat Jesus doen.

In vers 30 lees ons dat Petrus begin sink. Jesus sê vir Hom “Jou geloof is maar bitter klein”. Sy geloof in wie? Petrus se geloof in Jesus is nie klein nie. Jesus is nie die een wat besig was om te sink nie. Petrus se geloof in homself was bitter klein. In daardie oomblik het Petrus sy vermoë om soos sy Rabbi te wees, verloor. Daarom sink hy.

Wanneer ‘n rabbi jou roep, beteken dit dat hy glo dat jy soos hy kan wees. Ons lees in die Evangelies dat een van Jesus se grootste frustrasies was veroorsaak deur Sy dissipels wat vertroue en geloof in hulself verloor het. Jesus vermaan hulle herinner hulle daaraan dat hulle Hom nie gekies het nie, maar dat Hy hulle gekies het om Hom te volg. Die laaste opdrag wat Jesus aan Sy dissipels gee, voordat Hy opvaar hemel toe, is dat hulle meer dissipels van Hom moet maak. Dan het Hy genoeg vertroue in hulle om hemel toe te gaan, Hy laat die taak (natuurlik onder leiding van die Heilige Gees) oor aan hulle. Jesus het ‘n uiterse hoë agting vir mense. Ons is vandag saam met miljoene ander mense die resultaat van hierdie opdrag. Ons is Jesus se volgelinge. Hy is ons rabbi. Hy roep ons, omdat Hy glo ons het die vermoë om te wees soos wat Hy is. Kyk met Jesus oë na jouself. Glo in Jesus en weet dat Hy in jou. Hy roep ons om soos Hy te wees, hoekom sou Hy dit doen as Hy nie geglo het dat ons soos Hy kan wees nie? Mag ons in Jesus glo, maar mag ons ook weet dat Hy in ons glo. Mag ons weet dat ons verantwoordelikheid groot is, maar dat Jesus ons vertrou met Sy opdrag. En mag ons in ons Rabbi se stof loop.