Derde Adventsondag- Sondag van vreugde

in Preke
2015-12-15

Leraar : Prop. Tessa Freeman

Datum : 13 December 2015

Skrif : Heb 7 : 23-28

Advent:Die woord Advent beteken ‘kom’ of ‘arriveer’. Die fokus van die hele seisoen is die voorbereiding om die geboorte van Jesus Christus te vier in sy eerste Advent (eerste koms), en die afwagting van die terugkeer van Christus in sy tweede Advent. Advent gaan daaroor om die waarheid van God te vier; die openbaring van God in Christus waar die hele skepping versoen kan word met God. Hierdie is ‘n proses waarin ons nou deelneem. Ons fokus op Christus se eerste sowel as tweede koms, op sy Koninkryk wat Hy volmaak kom maak.

Skriflesing: Hebreërs 7:23-28

Prediking

Jesus oortref die Levitiese priesterskap, want sy Hoëpriesterskap is blywend

In kontras met die verbygaande, aardse priesterskap, met sy talle opvolgers, is Jesus se Hoëpriesterskap blywend. Hier is ‘n mooi woordspel tussen aanbly en bly. Die dood verhinder die Levitiesepriesters om aan te bly, maar Jesus bly vir ewig. Die gedagte dat Jesus verewig bly sluit aan by wat vroeër van Melgisedek gesê is: hy bly priester vir altyd (Melgisedek was ‘n hoëpriester van geregtigheid en vrede waarvan daar in Genesis gepraat word, daar staan dat hy vir ewig is).Van Jesus is ook reeds gesê dat Hy priester geword het deur die krag van onvernietigbare lewe. Die Griekse woord vir nie oorgedra (aparabatos), is ‘n baie sterker woord as onoordraagbaar. Dit dui daarop dat Jesus se Hoëpriesterskap onwankelbaar vasstaan, onverganklik is. Dis absoluut uniek, vir ewig onaantasbaar.

Jesus Christus se hoëpriesterlike werk word toegeëien deur die wat deur Hom na God gaan. Na God gaan beteken hier om jou tot God te wend as die enigste Een by wie verlossing te vind is. Calvyn verduidelik dit mooi. Hy praat van die Israelitiese hoëpriester wat, wanneer hy in die heiligdom ingaan, die name en simbole van die twaalf stamme op sy skouer en bors dra. Die volk kon nie ingaan nie. Hulle moes in die voorhof gebly het. Dan kom Calvyn by die wonderlike “maar” wat ons so baie in die NT kry. Maar ons gaan in die geloof tot in die hemel deurdat ons op Christus steun, ons Middelaar. Geen voorhangsel is meer in ons pad nie; God openbaar Hom vryelik aan ons en nooi ons liefdevol uit om vol vertroue na Hom toe te kom. Ons hoef nie in die voorhof te bly staan nie, ons kan self in die hemelse heiligdom ingaan, tot in die Allerhoogste God se troonsaal.

Dit moet egter deur Jesus gebeur. Jesus is die enigste weg. Jesus se offer is die begin van ons verlossing, maar die voortgang en die afronding daarvan word verseker deurdat Hy vir altyd lewe om vir ons by God in te tree. HY stel ons saak voortdurend voor God. Ons Hoëpriester het ‘n permanente aanstelling. Hy sal nie aftree voordat die laaste lid van God se familie tuis is nie. Hy is ook altyd beskikbaar. Daar is nie iets soos siek wees of verlof nie. Hy is nooit onbereikbaar nie.

Jesus oortref die Levitiese priesterskap, want Hy is die heilige en volmaakte priester.

Vers 26-28 is ‘n rapsodie oor ons Hoëpriester Jesus. Daar word entoesiasties oor Hom gepraat.

  • Hy is heilig
  • Skuldeloos
  • Sonder smet
  • Verhoog bo die hemele, verwyder vd sondaars
  • Hy is sondeloos en hoef nie vir Homself te offer nie
  • Hy hoef nie daagliks vir ons te offer nie, want Hy het Homself reeds eens en vir altyd geoffer
  • Hy is ewige en volmaakte Hoëpriester

Die feit dat Jesus heilig, sondeloos en sonder smet is dui daarop dat daar niks was wat ons Hoëpriestergediskwalifiseer het om in die heiligdom in te gaan en sy offer voor die Heilige God te bring nie.

Dit gaan hier om wat die aardse Jesus voor sy offer van alle gewone priesters onderskei het. In die vierde punt gaan dit om wat Hom van hulle geskei het. In die laaste drie punte gaan dit oor wat die hemelse Jesus nou van hulle onderskei.

Dat Jesus sy offer eens en vir altyd gebring het, is een van Hebreërs se geliefde formulerings. Dit is ook een van die bevrydendste en troosrykste stellings in die skrif. Daar word drie keer in die boek beklemtoon dat Jesus sy offer vir ons eens en vir altyd gebring het. Nog nooit was daar so offer gebring nie en ook nooit sal daar weer so offer wees nie. Jesus se offer was voldoende vir alle tye. Dit was immers die Seun van God wat Homself geoffer het. Hierna sou geen herhaling van enige offer weer nodig wees nie. Jesus sê in die Johannes-evangelie aan die kruis ”Dit is volbring”. Dit is afgehandel. Omdat Jesus ook aan die kruis die woorde “My God, My God, waarom het U my verlaat?” geuiter het, hoef ons dit nooit weer te sê nie. Dit is volbring. Dit is afgehandel. Alle selfopoffering, selfkastyding en boetedoening wat ons aan onsself doen, is bloot oortollig en onnodig. Luther het tot hierdie bevrydende herontdekking gekom en die vreugde van die boodskap versprei wyd en syd in die geknelde Christendom van destyds.

Hoe het hy tot hierdie ontdekking gekom? Hoe verstaan ons werklik iets van wat die Hebreër skrywer vir ons wil sê oor Jesus as Hoëpriester, wat vir ewig en altyd die offer gebring het? Dit verg ‘n persoonlike ontmoeting met God. Job was ‘n getroue dienaar van die Here, maar eers aan die einde van die boek het Job ‘n persoonlike ontmoeting met die Here. Dit is ‘n deurslaggewende gebeurtenis. Job het in God se antwoord aan hom in 41:5 die ‘meer van God’ ervaar. Hy sien die moontlikhede in God se hande (geloof).

Job maak vier belangrike uitsprake in vers 4-6.

  • Hy besef dat God se almag beteken dat God planne kan maak wat vir die mens duister bly.
  • Hy lê die rol van leermeester neer en word nou leerling.
  • Hy skryf sy verandering van mening nie toe aan ‘n nuwe leerstelling wat hy geleer het nie, maar aan die persoonlike ontmoeting met God.

Ons wat vandag deur ons gewete en depressie oor geteister word kan weer gelukkige Christenmense word as ons hierdie bevrydende finaliteit, die onaantasbaarheid en die verreikende implikasies van hierdie eens en vir altyd herontdek en toe-eien.

Die slot van hierdie teksgedeelte is dat Jesus aangestel is as die ewige en volmaakte Hoëpriester. Die ewige volmaakte Hoëpriester. Hy was dit reeds vir ons op aarde(1ste Advent) ; Hy is dit in besondere sin ook nou as die verhoogde priesterkoning in die hemel. Geen aardse priesterdom kan teen ons Here opmeet nie.

Vir ons om iets hiervan te begryp is ‘n persoonlike ontmoeting met God nodig. Ons enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan die Een vir wie ek kosbaar is. Die offer van ons Hoëpriester erken lyding, maar sy opstanding oorkom dit; en daardeur word sy koninkryk op aarde gevestig (2de Advent).