Met God Oppad

in Preke
2016-01-19

Leraar ; Dr. Jerry Fourie

Datum : 17 Januarie

Skrif : Eksodus 33 :10-17

1. Die opdrag wat die Here aan Moses gegee het, was gewis nie maklik nienl om die uitverkore volk, ‘n moeilike klomp mense? God se volk? na die beloofde land te lei nie. Meer as een keer het hulle Moses na totale moedeloosheid gedryf. Op ‘n dag het Moses voor die Here kom staan en gesê: Ek sien eenvoudig nie kans om hierdie taak alleen te verrig nie. ‘n Mens hoor selfs ‘n tikkie verwyt in Moses se stem: Kyk U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind. Eks 33:12. Bill Hybels sê: Ek hoor hierdie woorde van oud en jonk, ryk en arm, professionele en ouers, mans en vrouens, oor die hele wêreld in verskeie tale oor en oor en oor: exhausted, overwhelmed, overscheduled, anxious, isolated, dissatisfied!! Met hierdie laste moet ons die reis in 2016 voortsit!!

  1. En toe God vir Moses jammer kry en vra of Hy self moet saamgaan, antwoord Moses duidelik: As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Moses sal eerder sterf in die woestyn as om sonder God na die beloofde land te trek. Moses sien self kans dat God sy naam uit God se boek laat uithaal eerder as dat die Here nie die volk vergewe nie. Wat kan die land immers bied as God nie daar is nie? Die Here God sal sy Engel, sy wolkkolom en vuurkolom stuur. Moses aanvaar dit nie. Daar is GEEN plaasvervanger vir God nie!! Word die verwagtings en vooruitsigte nie juis gestut deur die wete dat God met sy versorgende genade onder en tussen ons sal woon nie? Het God dan nie self gesê die land waarheen hulle gaan, is ‘n land waarvoor die Here sorg en waaroor Hy van nuwejaarsdag af tot oujaar toe ononderbroke sy oog sal hou nie?
  2. Die enigste versekering is God se Woord. Moses neem God letterlik en figuurlik op sy Woord. Die brandstof vir die reis is God se belofte en die eindpunt is die vervulling daarvan. Deur die moeilikste dae en die donkerste nagte laat juis dit die mense volhard. Die bitterste woestyn is oorkombaar … aan God se hand! Ons in God se hande, God nie in ons hande nie!! Hierdie ongelooflike ding: God openbaar Homself aan Moses. Gepraat van heilige grond? Wat gebeur hier? Dis asof God met hierdie effense wegdraai, hierdie deelse verberging van Hom-self, vir Moses sê: Ek gaan gedeeltelik aan jou versoek voldoen maar Ek wil hê dat jy vooraf moet weet: Jy moenie probeer om my arm te draai nie. Ek is God en Ek skuld niemand iets nie. Genade aan jou Moses gee jou geen reg nie. Moses het wel geleentheid om te deel in God se Teenwoordigheid!! God draai sy rug op Moses: Hy draai nie soseer sy gesig weg nie. Die hoogste goed in die lewe is nie om God se gesig te sien nie, maar sy rug. Hy loop voor, neem die gevaar weg. Ek kan gelowig, in gehoorsaamheid my oog op sy rug hou, Hom volg!!

Waarheen is God en ek …? Wanneer jy in gedagte hou dat ook jy reis na ‘n bestemming, moet ook jy vra: Weet ek waarheen ek oppad is? Weet ek Wie my hulp op die weg is? Om hierdie belofte te vervul, het sy Seun se dood gekos. God wys vir Moses nie sy gesig nie, ook nie vir ons in Christus nie. Nee, God wys eerder sy hart!! Groter liefde as dit het niemand nie.